Ons Visie
"Elke leerder voel gewaardeer en geïnspireer in ons innoverende onderwysstelsel."
- Die strewe na uitnemendheid op alle terreine.
- Balans in die ontwikkeling van die totaliteit; liggaam, siel, en gees.
- Die ontwikkeling van lewensvaardighede, persoonlik maar ook as lid van die samelewing.
Ons Missie
"Ons is daartoe verbind om funksionele en moderne skole te voorsien wat kwaliteit onderrig en leer moontlik maak wat die reg van elke leerder beskerm en bevorder kwaliteit, billike, en relevante onderwys."
Hoërskool John Vorster stel dit ten doel om op 'n besondere wyse gestalte te gee aan die breë opvoedingsdoel, naamlik om jongmense te begelei na volwassenheid. Hierdie begeleiding behels ten eerste die skepping van 'n klimaat van aanvaarding en liefdevolle bemoeienis met elke kind – die skep van 'n atmosfeer waarin elke kind veilig en geborge voel om besondere talente tot volle ontplooiing te laat gedy.
Verder omvat dit wedersydse respek en interaksie waarin elke kind progressief ontwikkel en groei deur die kweek van gesonde en effektiewe lewensvaardighede en -waardes. Ons poog om besondere lewensvaardighede te vestig, lewensvaardighede wat die kind in totaliteit, en gebalanseerd vir die lewe sal toerus. Om gestalte te gee aan hierdie breë beginsels word gepoog om die volgende fasette te vestig en uit te bou:
- Die vestiging van 'n eie waardestelsel.
- Deelname aan kultuuraktiwiteite en die toe-eiening van kultuurwaardes en eie tradisies.
- Deelname aan liggaamlike aktiwiteite, veral sport, en die kweek van 'n gesonde liggaam en spangees.
- Die aanleer van vaardighede om aanpassings te maak by 'n snelveranderende wêreld.
- Die aanleer van basiese vaardighede wat doeltreffende kommunikasie sal verseker.
- Die kweek van spesifieke intellektuele vaardighede om met insig en kundigheid die wêreld te beheer en uit te bou.
- Voorbereiding vir 'n toepaslike en sinvolle loopbaan.
- Verantwoordelike burgerskap.
- Die volle ontplooiing van die potensiaal van elke kind.
- Die skoollied, skoolleuse, en skoolwapen beskerm.